BEGIN MEI; THAILAND SENDING
Graag wil ek jul `n bietjie meer inlig oor wat in ons lewens aan die gang is noudat die eerste gebedsgroep terug is na SA. Dit was maar `n skok om eweskielik weer net ons twee te wees. Ons was so bederf met die ander 3 Suid Afrikaners hier by ons. Hul het ons so baie gehelp met die soek vir `n huis en die inrig daarvan nadat ons dit gekry het. Ons roetine is skoon versteur met hul wat weg is want ons het so lekker dinge saam gedoen soos bv sekere tye bybelstudie, gaan bid of sommer net lekker “Yatsi”gespeel as dit in die aand reen.
Dit terugkeer van Bangkok af was ook maar met die gewone drama. Hierdie keer het die trein darem nie weer soos die vorige twee keer gebreek nie. Dit was gelukkig so 2 ure laat. Gelukkig want anders sou ons van 4vm tot 6vm op die stasie by Chompon gesit en wag het vir die bus wat ons na die hawe moes neem. Ons arriveer toe 6vm op stasie en vertrek toe 10 minute later met bus na hawe om uit te vind die boot is `n uur laat. Die Thaise gesegde “Relax” word toe maar toegepas. Met die boot se vertrek 8 vm kom ons gou agter die see is nie normaal nie. Ons het met `n redelike groot Catamaran gevaar maar die see het hom so rondgegooi dat baie mense gou bleek in die gesig was, Deirdre ingesluit. Ek het besef hier kom drama want daar het nog meer as 3 ure op die see vir ons gewag. Ons het dit darem oorleef, buite op die dek in vars lug waar jy ver kon staar.
Met ons aankoms in Kho Phangan sou ons hoor van die ergste sikloon in die geskiedenis wat ons bure, nie ver van ons af nie, getref het. Daarom was die see so omgedop. Ek sien vanoggend op die internet dat daar reeds meer as 100 000 sterftes aangemeld is. Die “locals” se dat ons eiland baie veilig is siende dit so klein is en in die Thailand Golf gelee is wat dit beskerm. Ons is baie dankbaar daaroor.
Met die laaste paar dae se herstelwerk by die kerk asook met die aankope vir die huis het ons gou besef dat dit waaraan ons gewoond is nie maklik bekombaar is op die eiland nie. Jy moet maar vat wat beskikbaar is. Ek kon gister selfs nie die hoekies waarmee `n mens `n spiel teen die muur vassit kry nie. Moes maar ander plaatjies koop en buig om glas “vensters” vir `n nuwe kas se deurtjies in te sit. ( Hier buite klink dit soos oorlog, bomme wat val. Hul is besig om die Coconutpalms se oes af te haal.)
Selfs om net iets soos PVA verf te koop is drama. Dit vat my `n halwe dag van soek by winkels terwyl `n verkoopsman, wat niks van jou behoefte verstaan nie, die heel tyd saam met jou loop, weet nie of hy jou op pas of sy baas wil beindruk nie.
Ons het besluit om more maar Kho Samui, die groter eiland langsaan, toe te gaan vir nodige aankope. Ons moet onder andere `n “Rice-coocker”en stoomstrykyster kry. Cobus kan nie regkom met die yster nie , anders gaan hy nie stryk nie. Ons wil ook die christene daar gaan besoek en die Chinese bybels wat ons saamgebring het by die Yewon Church, hul het `n Chinese bediening, gaan afgee. Daar is darem winkels soos ons PnP en Makro. Dit is net baie drama want as jy anderkant kom moet jy `n motorfiets gaan soek om te huur vir vervoer.
Iets waarnaan ons nog gewoond moet raak is die elektriesiteit wat die hele tyd wissel. Dan loop die fan vinnig en dan stadig. Die ligte sit aan en af, soms sekondes uit mekaar vir `n uur lank, want daar is nie genoeg krag om dit aan die gang te hou nie. Ek weet nie hoe elektriese goed hier kan hou nie. Die Ds het vir ons `n gas primuskop en gasbottel gebring vir kos maak.
Ons het gou agtergekom dat mense nie vir jou kom kuier nie. Ons het al `n paar keer mense, die predikant hulle ingesluit genooi vir kuier en koffie. Hulle daag egter net nie op nie. Het hul toe sommer reguit gevra hoe dit werk. Hul se toe jy kom net by mense as jy iets vir hul vat of gaan haal, maar kuier dan nie. Wel ons probeer maar weer en het die Ds hulle vir ete genooi volgende Dinsdag. Dit maak dinge maar baie alleen want ons het nou geen verdere social met mense nie behalwe dit wat by die kerk gebeur en taal bly maar altyd die kwessie by “kuier”.
Ons het gister 3 bejaardes gaan besoek. Hulle is nog nie Christene nie maar daar word reeds `n geruime tyd met hul gewerk en vir hul gebid. Die een het God al aangeneem maar Hy is net nog `n god vir haar en sy erken Hom nie as die enigste God nie. Sy is al 88 jaar oud.Sy het ons genooi om weer te kom. Dit is egter onmoontlik om te kommunikeer sonder Visal en hy is nie altyd beskikbaar nie. Ons sal egter haar maar hanteer soos ons die Victory kerk hanteer deur gebare en gebed.
Ek moet nou afsluit want daar is `n paar dinge wat ons vandag by die kerk wil gaan doen. Die Ds is Surat Thani toe so ons kan lekker ongesteurd regpak en skoonmaak.
Groete tot `n volgende keer en “Prajooi oih phom” (Mag God u seen)
Khoo en Dee
Monday, May 12, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment